YHWH, ons Skepper

Ek wil nie hê jy moet in Mamma se voetspore volg nie…

Advertisements

Ek het lank gedink oor wat ek eerste wil skryf, want ek wou hê jy moes daardeur verstaan hoekom die blog vir my so belangrik is. Ek wou dus begin met liefde.. my liefde vir jou. Maar daar is iets selfs groter, en Iemand wat jou selfs meer lief het as ek.. YHWH.

Ek het in ‘n huis groot geword waar my Mamma en Pappa nie vir YHWH geken het nie, en God gebruik het as ‘n vloek woord, en tog weet ek diep in hulle, het hulle omgegee vir ander, en probeer goed doen waar hulle kan. Albei van hulle het ‘n geleentheid gehad om hul sonde te belei en vergifnis te vra voor hulle gesterf het. Ek kan maar net hoop en glo dat hulle ook eendag in die Nuwe Jerusalem sal wees.

Nes hulle, is ek ook nie ‘n perfekte ouer nie. Ek weet en glo hulle het probeer, maar het ook nie als geweet nie, en ook nie altyd geld gehad nie. Albei was ongelukkig in hul huwelik en het nie ‘n rots (YHWH) gehad om aan vas te hou nie. Alhoewel hulle baie dinge verkeerd gedoen het, het hulle ook baie dinge reg gedoen. En ek kan maar net hoop dat baie van die dinge wat ek jou geleer het, vir altyd by jou sal bly. En dat jy altyd onthou wat belangrik is. En dit is nie ‘n mooi sitkamer bank en skoene nie.. maar dit wat in jou hart en siel is.

So as kind het ek Sondag skool toe gegaan. Dit is ‘n klassie wat al die kinders moes bywoon by die kerk (‘n plek waar baie mense op Sondae bymekaar kom om alles te hoor wat die Dominee of Pastoor dink van hoe ons God moet aanbid ~ ek wil meer hieroor skryf, maar sal op ‘n later tyd, as dit Vader se wil is) en waar hulle so uur lank Bybelverhale lees en leer wat die oom of tannie van die verhaal dink. Dit is al wat ek van God en Jesus (het toe nog nie Sy regte naam geweet nie) geleer is.

1

By die huis het ek self Bybel gelees en het ek so groot begeerte gehad om vir God te leef. Ek wou nie soos meeste ander kinders in my skool gewees het nie, en ek was nie. Meeste het by elke tweede seun geslaap en was trots daarop. En ander het weer die kinders wat nie so slim soos hulle was nie, geboelie en mee spot gedryf. Ander was meer obsessief oor hul hare en skoene, ens. Niks fout daarmee om mooi te wees en goed versorgd te wees nie, maar dit is oppervlakkig om te dink dit is waaroor die lewe gaan.

Dit was moeilik in ons huis.. Ek kon nie vriende tuis toe neem nie, want ek het my geskaam vir my dronk Mamma (op daardie stadium het sy elke aand gedrink en was baie ongelukkig en agressief as sy te veel gedrink het). Ek het nie ‘n verhouding met haar gehad soos ek en jy het nie. Ek kon nie vir haar sê sy maak my seer of net vir haar ‘n drukkie gee en sê dat ek hoop sy okay is of sal wees nie. Sy het ons weggestoot (miskien nie fisies nie, maar emosioneel). Ek weet haar hart was nie in haar verhouding met my Pappa nie, en by iemand wat sy nooit kon hê nie.

Ek is op 19 uit die huis en die eerste keer toe ek in ‘n ander (AGS) kerk kom, het ek besluit om my lewe finaal oor te gee aan God. Ek was baie betrokke by die kerk en die gemeente lede en was gelukkig. Ek was soos ‘n kind in die Pastoor se huis en hulle was my geestelike ouers. Ek het probeer om steeds elke naweek huistoe te gaan, want my Pa veral, het my baie gemis, en ek vir hom. Hyt altyd ‘n geldjie in my hand gedruk en gesorg dat die yskas vol kos was. Hy het so mooi hart gehad, en sou sy laaste gee.

Toe ek 23 was, is my ouers oorlede. Eers my Pappa, aan ‘n hart aanval, en 2 maande daarna my Mamma, aan lewersirose. Ek was stukkend. Ek het regtig heeltemal koers verloor en baie depressief geraak. Ek dank Vader dat ek nooit losbandig geraak het en met verkeerde vriende en dwelms deurmekaar geraak het nie. Regtig, dis net genade.

Maar ek het alles verloor wat ek gehad het.. fisiese goed. En eendag staan ek met ‘n vriend se pistool (geweer) in my hand en wil myself skiet. Ek was net te stukkend en het nie geweet hoe ek weer uit die diep, donker gat gaan kom nie. Toe besluit ek, net ek alleen kan daaruit kom, maar nie uit my eie krag nie, net deur Sy (YHWH) se hulp. Ek het ‘n briefie geskryf aan Hom, waar ek vir Hom vra om my te help om my lewe weer reg te kry en beloftes aan Hom gemaak… wat ek met groot berou kan sê, ek nie almal nagekom het nie. Maar Hy het elkeen nagekom.

Dit was nie Hy wat my ouers weggevat het nie. Dit was hul eie lewens-styl. Hul eie keuses. Hy sê vir ons in die Woord hoe ons moet leef en wat ons moet eet, maar ons doen dit nie en word dan siek. My Pappa was baie oorgewig en het vet en verkeerde goed geëet. Ek glo nie hy het geweet hy mag dit nie eet nie, maar hy het nooit self in die Bybel gaan soek wat YHWH daaroor sê nie. Dit was sy keuse. My Mamma het weer hopeloos te veel gedrink en haar organe het ingegee. Ek het God blameer, maar later eers besef, dit was nie Hy nie, maar Hy was steeds daar vir hulle en het hulle ‘n laaste kans gegee. En Hy was daar vir my, soos Hy vandag steeds is. Regtig.. daar is niemand anders wat ons kan bydra, raad gee, verstaan en oplig, soos Hy nie. Hy is alles.

Die keuse om Hom te volg moet van jouself af kom. Ek kan elke dag vir jou Bybel lees en met jou praat oor Hom, maar net jy alleen kan besluit wanneer jy reg is om die wêreld agter te los, jou eie wil te kruisig en Hom voluit te volg.

So na my briefie aan Hom, het my lewe stadig maar seker drasties verander en ek het Daddy ontmoet in 2006. Ons is in 2007 getroud. Daddy was net anders as die ander mans wat ek geken het. Hy was rustig, en ouer, en het ook al deur baie seer gegaan. Hy het my verstaan.

Ons was ook albei lief vir God en het saam Bybel studie gedoen en gevind waaroor kersfees gaan (Saturnalia / Yule) en dat baie dinge wat die Christen-geloof (wat ons onsself op daardie stadium genoem het) baie verkeerd was en baie heidense tradisies nagevolg het. Hulle hou nie Shabbat nie, hou kersfees, Ishtar (Easter), ken nie eers ons Skepper en Yeshua se regte name nie, eet vark en basies enigiets anders, en glo dat Yeshua gesterf het sodat ons kan sonde doen. Hulle konsep oor hemel en hel is heeltemal onBybels.

Ek en Daddy het ons lewens begin verander en dis nou 5 jaar wat ons nie meer onsself Christene noem nie, maar Hebrews (of Yisraeliete). Dis nie ‘n besluit wat ons maklik gemaak het nie, en dis na jare se studies wat ons besef het dat Jesus nie gesê het Hy het gekom om die wet tot niet te maak nie. Ons begrip was baie verdraaid, deur indoktrinering in die kerke.

Jy sal met baie pragtige Christene te doen kry, maar dis nie maklik om hulle sienswyse te verander nie. Net Vader kan dit doen deur Sy Gees. En ons is so dankbaar dat Hy ons oë oopgemaak het. Maar ook net omdat ons gesoek het. Wie soek, sal vind.

Om YHWH voluit te dien is ‘n EENSAME pad. Ons het baie vriende en familie verloor as gevolg daarvan, maar ons het soveel meer gewen. Ek sal, as dit Vader se wil is, op ‘n latere stadium skryf oor familie en vriende.

Die belangrikste wat ek met hierdie eerste “blog-post” wil oordra, is YHWH se liefde. Dis Hy wat ons vir mekaar geleen het. Dis Hy wat jou nog altyd gedra het. En selfs al het Mamma jou vasgedruk en jou trane afgedroog, is dit Hy wat jou hart se seer weggeneem het. Hy is lief vir ons, en as ons Hom gehoorsaam, gaan dit goed met ons. Hy is ons Hemelse Pappa.

Die tweede belangrikste.. al het ek en Daddy die Bybel nagevors, en Mamma my Doktorsgraad in Bybelse Berading voltooi, en al lees ons elke dag Bybel, kyk na teachings van ander Torah onderhouers op Shabbat, kan ons steeds verkeerd wees oor baie dinge. Maar dit wat ek hierbo genoem het (kersfees, kos, Shabbat, gehoorsaamheid, ens) is wat dit is. Daar is nie ‘n grys area nie. Maar daar is nuwe ontdekkings of teachings elke dag oor ander onderwerpe. Ons sal nie in hierdie wêreld alles weet oor YHWH en die Woord nie.

So as Mamma vir jou iets vertel het oor YHWH, of iets uit die Bybel verduidelik het, moenie my woord daarvoor vat nie. Ek is net ‘n mens en kan verkeerd wees. Doen self studies. Ondersoek alle dinge. Moet nie een mens se woord vir alles vat nie. Dis goed om baie mentors te hê. Neem die goed uit hul boodskappe en vergeet die res. En so ook met Mamma se verduidelikings oor die Woord.. ek weet nie alles nie en kan verkeerd wees. Vergewe my asb as ek is en jy dit later uitvind. Ek sal nooit met opset vir jou jok nie.

So oneindig lief vir jou, my pragtige Meisiekind. ~Mamma